Z PR has been assisting writer Ansja Ferreira (Woordereis) with her website, proof-reading, Public Relations related work, language editing, social media assistance and marketing consultations.

BIOSKETS:  ANSJA FERREIRA

Ansja Ferreira is ‘n vryskutjoernalis en skakelpraktisyn van Bloemfontein.  In 1990 behaal sy ‘n  Honneursgraad in Kommunikasiekunde met Joernalistiek as hoofvak in 1990 aan die Universiteit van die Vrystaat en is ook ‘n gekwalifiseerde lewensafrigter (Life Coaching Institute Diploma in Life Coaching Dip LC (LC Inst.).  Sy behaal ‘n Meestersgraad in Kreatiewe Skryfkuns aan die Universiteit van die Vrystaat in 2019.  Sy is lid van COMENSA en CAPASSO.  Sy word aangewys as die Vodacom Journalist of the Year 2011 Central Region Consumer Journalism en was ‘n finalis vir die 2011 ATKV Mediaveertjies in die afdeling Finansiele verslaggewing.  Sy is die wenner van die Penguin-Random Prys vir die beste kreatiewe skryfkunsstudent in die eerste Magisterjaar van Departement Afrikaans en Nederlands, 2018 aan die Universiteit van die Vrystaat.  Sy is die skrywer van twee boeke, naamlik La ‘n reis na die Lig (2021) uitgegee deur Protea Boekhuis en Wees jou eie life coach in lyn met God se Woord (2014), uitgegee deur Kwarts uitgewers.  Haar stokperdjies sluit in sang, die skryf en vertaling van liedjies, die skryf van bloginskrywings, fotografie, tuinmaak en joga.

Die onstuitbare golftrein wat by my voordeur instroom – Ansja Ferreira

Die derde golf – ek toets positief vir Covid-19 Deel 1

ʼn Dag na Kersfees. 2004.  Ek was hoogswanger met my dogter Kaylah. Duisende toeriste het die Europese en Amerikaanse winterkoue probeer ontsnap op die tropiese strande van Thailand, Sri Lanka, Indonesië en omstreke.  Nes die strande dwarsoor die wêreld was die strand by Ramsgate, KwaZulu-Natal ook propvol mense.  Ek het my verwonder aan die branders wat veel hoër as tydens ʼn gewone hoogwater opgestoot het.  Ek het eers later die dag uitgevind wat die rede daarvoor was. Wanneer jy met vakansie is, stel jy nie belang om die nuus te lees nie.

ʼn Aardbewing in die Indiese Oseaan wat 9.0 op die Richterskaal gemeet het, het ‘n reeks noodlottige tsoenami’s ontketen. 14 lande is deur die ramp geraak insluitende Indië, Indonesië, Maleisië, die Maldive, Mianmar, Somalië, Sri Lanka, Thailand, Bangladesj, Suid-Afrika, Madagaskar, Kenia, Tanzanië en die Seychelle. Die dodetal van hierdie tsoenami, meer as 310 000 mense, was die noodlottigste ooit in die geskrewe geskiedenis.

Die effek daarvan was ook in Suid-Afrika gesien, met rowwe see toestande en buitengewoon hoe oseaanvlakke, meer as 2 tot 3 meter buite normale vlakke.  (Daar was enkele verdrinkings, groot skade, groot betonblokke was in die Oos-Londense hawe ontwortel, bote en motors is in die Algoabaai-seiljagklub in die hawe van Port Elizabeth was onder water en die Durbanse hawe, was op 27 Desember vir ‘n geruime tyd gesluit vanweë buitengewone sterk deinings.)

Junie 2021. Ons leef al sedert Maart 2020 met die impak van die Koronavirus saam.  Baie mense vergelyk dit met ʼn tsunami, maar ek dink dat dit veel erger as ʼn tsunami is.  Hierdie golftrein het nie ʼn einde in die nabye toekoms nie. Die 2004 Tsunami was van korte duur, alhoewel die nagevolge baie langer gevoel was.  So ʼn vloedgolf verander ʼn landskap, spoel alles weg, ontwortel selfs die forste, sterkste boom. Wanneer die waters terugtrek, vergiftig die soutwater stadig maar seker die bome wat nog staan.

Met die skryf van hierdie blog is meer as 4,065,901 mense sedert die uitbreking van die pandemie dood. Die impak daarvan is wêreldwyd en nie net in sekere areas nie. Mense raak pandemievoos, selfs moedeloos.  Baie skade is aangerig. Werke is verloor, mense kry swaar. Mense raak sosiaal geïsoleerd, kan nie kerk toe, groot konserte, skoue of feeste bywoon nie.  Die impak op kinders en jongmense sal eers veel later gesien word.

Die walle water het ook by ons voordeur ingestroom.  Die pandemie het Bloemfontein letterlik in ʼn wurggreep. 8 Oumensies in ʼn aftreeoord skaars ʼn kilometer van my werk af is dood weens Covid.  Baie van my testament kliënte woon daar. My dogter se skool was vir 10 dae gesluit weens onderwysers en leerders wat positief getoets het.

My pa en my man gaan vir hul eerste Covid-inentings by die Universitas-hospitaal naby ons huis. My oudste seun Anco word op Vrydag 4 Junie positief vir die Koronavirus getoets. Hy is erg siek.  Hoes, kortasem en voel asof  ʼn trein hom getrap het.  Klink uitasem as hy praat. Ek het die week sedert Maandag elke dag kontak met hom gehad, want ons het saam in een kantoor gewerk.  Ek word deur ons huisdokter gevra om 10 dae te isoleer en net te gaan toets indien ek simptome ontwikkel.  Ek werk van die huis af en drink wildealstee, vitamines en die middel wat ek by die koöperasie aangeskaf het. Ek doen strekoefeninge en joga en stoom as ek gaan stort. Ek gaan laai sop en medisyne voor Anco-hulle se huis af. Hy kom haal dit as ek weer in ons motor geklim het. Sou hom graag ʼn drukkie wou gee, maar ek kan nie. My skoondogter en kleindogter is nou ook siek. My ander seun Tristan ontwikkel simptome en hy word ook getoets.  Hy toets negatief.  Op Dinsdag 8 Junie kry ek erge lyfseer en my vel voel asof dit brand.  My neus begin bloei.  Ek toets my koors en dit is 37,8.  Ek besluit om my te laat toets.  Ek toets positief vir Covid-19.

Addisionele bronne:

Countries affected by the 2004 Indian Ocean earthquake and tsunami – Wikipedia

Tsunamis in South Africa (worlddata.info)