33 Jaar saam

Hierdie is vandag meer ‘n DANKIE sê vir ‘n professionele vennootskap wat meer as drie dekades steeds vreugde gee. Soms word jou professionele kontakte vriende. Dit was ook die geval met ZPR – soms het die lyne verdof en is rolle omgeruil. Soms was ons klient-verskaffer, of visa versa. Soms was ons kompetisie. Maar wat ek die meeste waardeer, is om ‘n eerlike klankbord in die skakelwese industrie te kon hê. Waarvan ek ook kan getuig, is Z-PR se eerlike benadering en gesonde waardestelsel.

In 1988 het my pad met ZPR gekruis. Toe hul vorige eienaar, Zarine Roodt my aan OSISA, nou PRISA, voorgestel het. Sy het ook later my mentor in die skakelwese bedryf geword. Deur haar leiding het ek begin verder studeer, nadat ek eintlik joernalistiek studeer het. In 1992 het ek as Geaktrediteerde Skakelpraktisyn gekwalifiseer.

Mettertyd het ek my besigheid, PRoComm, uitgebrei deur dienste by te voeg om te verseker dat ‘n holistiese diens aan entrepreneurs gelewer kan word.

Saam met Z-PR, hetsy as klient of vennoot, het ons deur die jare spesiale geleenthede gereël en promosies vir nasionale klient hanteer. Ons laaste promosies was in 2013. PRoComm het toe meer na mentorskap beweeg en was ZPR vir ons nuwe webwerf se instandhouding verantwoordlik (www.procomm.co.za)

As jy as besigheidseienaar ooit soos ‘n seekat op rolskaatse gevoel het, dan was jy ‘n tipiese PRoComm klient.

As jou besigheid ooit befondsing gekry het, is daar ‘n groot moontlikheid dat ons aangestel was om jut e mentor en te verseker die besigheid baat by die kapitale inspuiting.

Sedert 2010 het PRoComm meer as 1 000 SMME’s gehelp. Dit sluit handelsmerkbestuur, bemarking, sake-ontwikkeling en mentorskap in. Lidmaatskap aan verskeie professionele organisasies verseker dat ons op die voorpunt van ontwikkeling is.

In Julie 2021 is die besluit geneem om die besigheid te sluit. Na 3 dekades is dit tyd vir nuwe uitdagings. Wees verseker, ek sal altyd moontlike kliente na julle verwys! Lynne en Z-PR span – ek wens julle net alles wat mooi is toe!

So aan die einde van n loopbaan kyk mens terug… gevul met diepe dankbaarheid. Die meetsnoere het mooi geval.

Hoewel ek die besigheid staak, klink die woord “pensioen” nog nie lekker reg nie.

Die rede vir die sluiting van PRoComm is nie Covid-verwant nie. Dis bloot net tyd om aan te beweeg. Om die professionele masker af te haal en die “mens” masker te dra.

Oor al die jare het ek die besigheid soos ‘n puzzle beplan en gebou – altyd ‘n diens bygevoeg om te verseker ek kan aan ‘n besigheid ‘n holistiese diens lewer.

“Die kleurvolle legkaart is nou voltooi.”

“Hierdie mylpaal viering is eintlik ‘n sprong in in die donker. Daar is nog geen defnitiewe plan nie, wel ‘n paar drome.

Vandag weet ek… Ek was seker die slegste werknemer ooit. (Jammer, nuuskantoor!) Getrou aan my ondersoekende geaardheid, het ek alles bevraagteken, nie reëls gevolg nie en niks as vanselfsprekend aanvaar nie. Die dag toe ek besef “Ja, en Amen” pas nie my verwysingsveld nie, toe weét ek…. Ek moet my eie baas word. ‘n Entrepreneur, wat nie hou by roetine, boksies en voorskriftelikheid nie. Wat haar eie pad kan oopkap. Dit was 33 jaar gelede.

My joernalistieke loopbaan was wel ‘n stewige fondament en bousteen vir wat sou volg …: PRoComm (staan vir PRO & kommunikasie) – skakelwese, bemarking, promosies, media skakeling & publisiteit, geleentheidsbestuur, grafiese ontwerp (nou bekend as “integrated marketing communication”). Later na baie ervaring van met ‘n wye verskeidenheid van kliënte in alle sektore en industrieë werk, ook besigheidsontwikkeling bygevoeg. Om my loopbaan nou met mentorskap (vir entrepreneurs en hul besighede) af te sluit. Ek het my skoolgeld betaal en kan ander help om nie dieselfde duur en onnodige foute te maak nie. Die afgelope 10 jaar alles, is meer as 1 000 SMME’s deur PRoComm dmv verskeie ingerepe gehelp en ondersteun. Dit sluit in besighede vanoor alle industriee en sektore.

Alles het begin op my Ma se ou Olivetti tikmasjien (nog met tiklint) in 1988 en later in 1992 is ‘n boks rekenaar gekoop. Tot laatnag het ek dan met Sarie tydskrif langs my oop, myself geleer grafiese uitleg doen. Nie gaan slaap tot my blad amper lyk soos die Sarie blad nie.
Dit was maar sukkel-sukkel aan die begin en moes ek heelwat deeltydse kontrakwerk doen, maar steeds in lyn met my langtermyn visie en om die regte kennis op te doen.

Die besigheid het wel gegroei en toe ek in nóg groter kantore in die hoofstraat moes intrek het Liefie spaargeld gevat en die mooiste doelgemaakte houtmeubels laat maak. Pappalap het net gesê “Groot is nog nie grOOt nie”. En “doen net altyd eerlik sake!”.

PRoComm was ‘n verlenging van my persoonlik waardes en daar was wonderlike sosiale impak gemaak. Daardie waardes sal ook oorspoel na wat ek ookal voorkant toe doen.

Vir baie jare was dit ‘n 7-dag werkweek, veral met “events” en promosies wat meestal oor naweke plaasvind. Harde werk en vasbyt het nuwe betekenis gekry, terwyl gesinstyd aan die agterspit moes byt.

Welkom is ideaal sentraal geleë en het ek gefokus op nasionale ondernemings met belange in die Vrystaat, plaas van die goudpotte in Egoli te gaan soek. Ja, ek is baie gevra hoekom nie die besigheid Gauteng toe skuif nie. Maar ek kyk mos maar bietjie anders na alles om my en doen dinge buite die hoofstroom 🙂.

Die indiensneming en vaardigheidsontwikkeling van 100e deeltydse werkers, meestal jongmense uit agtergeblewe gebiede, se impak het bygedra tot ‘n toekenning deur die United Nations se “Trade & Development Unit” (UNCTAD) in Geneva.

Ná Geneva (2014) het ek die selfvertroue gehad om te begin mentor. Die tyd was reg, ook omdat ek na persoonlike trauma ‘n paradigma skuif wou maak.

Mentorskap het my toegelaat om minder verantwoordelikheid te hê, meer buigbare ure, ek kon meer vir werk reis, die land se mees afgeleë plekke sien, wonderlike mense ontmoet en hulle help om hul drome te bereik, fotos neem…. Wát ‘n voorreg om al my passies in een pot te roer!! Om die laaste 7 jaar veral te besef dat my passies d.m.v. my werk handevat, is ‘n voorreg wat min mense beskore is. Spottende daarna verwys as “ek verdien n p(L)ay cheque en nie ‘n gewone pay cheque nie!” Min mense kan eerlik sê dat hul werk n verlenging van hul menswees is. Daai is alles net Genade onbeperk!

Daar was soveel hoogtepunte deur die jare en toekennings was ook lekker, maar wat uitstaan is die impak wat agterbly. Projekte waarby ek betrokke was. Mense wie se lewens verbeter is. Gemeenskapswerk (Riebeeckstad SAPS sateliet-kantoor se oprigting was dalk die grootste bydrae) waar ek ‘n verskil kon maak juis omdat ek oor sekere vaardighede, kennis, ervaring en kontakte beskik. Om deur Welkom te ry en te weet “daar en daar” kon ek ‘n verskil maak. Dit is genoeg. Ek het altyd ‘n beleid gehad om jaarliks my betrokkenheid by diensorganisasies aan te pas en was ek dus by heelwat betrokke. Ek was ook lid van verskeie professionele organisasies om te verseker dat ek op die voorpunt van ontwikkeling bly.

Daar was heerlike suksesse en daar was epic “failures”. En dit is goed so.

Soveel mense het in my geglo, my ondersteun en Welkom se gemeenskap was net goed vir my. My drome, en soveel meer, het alles waar geword. Dit is nou tyd vir n volgende hoofstuk.

Dankie aan almal wat n deeltjie gehad het in my groeiproses; ook aan PRoComm se sukses oor meer as 3 dekades.
Dankie veral aan Liefie…. wat deur al die jare die wind onder my vlerke was en die vangnet as ek val. Hy sal nog so paar jaar bly werk.
PRoComm was die voertuig waarmee ek my ideale kon najaag. En dit was goed. Nou sien ek uit na ‘n nuwe toekoms! Dis tyd ….